Recycling & Garden Services

Grasperke

WENKE VIR N GESONDE GRASPERK

1.Bespoei grasperk slegs in die oggend voor 7
2.Kunsmis behandeling maart,aug,nov en des
3.Moet nie gras te kort sny nie
4.Moet nie die gras sny waneer dit nat is nie
5.Maak seker die lemme van jou gras snyer is skerp
6.Swamdoder behandeling is baie belangrik in reen seisoen
7.Scarify (uitdun) van grasperke in Aug en verticut in Maart is baie belangrik
8.Spike van grasperk 4 keer n jaar is n moet
9. n Gesonde grasperk is n grasperk sonder onkruid, swamme en plae

Groen gras:

Meng sowat 2 eetl sout in ‘n emmer water en gooi oor jou grasperk. Die natuurlike magnesium in engelse sout help met die chlorofil ontwikkeling in plante.

Sny die gras reg

DIE lengte van die gras is van kardinale belang. Moenie dit te kort sny  nie. Sny dit eerder meer dikwels.

Gras is drieledig: dit bestaan uit wortels wat water en voedingstowwe uit die grond opneem, stingels wat die blare stut, en blare wat die groenigheid verskaf deur sonlig te absorbeer. Deur middel van die son maak die plant sy eie kos.

As ’n mens die gras tot op die wortels afsny, kan hy nie kos maak nie en word die wortels boonop aan die son blootgestel. Te erg sny kan inderdaad die gras doodmaak.

Maar gereelde sny tot op ’n “lewensvatbare” diepte waarborg ’n digte, kort, sagte grasoppervlak. Daardeur word die loof kleiner en fyner gemaak. Só word ’n absorberende laag ook geskep waardeur water makliker kan dring en wat moeiliker deur onkruid verdring kan word.

Gereelde sny verminder ook die skokke wanneer dele van die groeiende plant verwyder word. Wanneer dit bietjies-bietjies gebeur, is dit nie naastenby so erg vir die plant as wanneer lang lopers skielik in die slag bly nie.

Maar hoe presies hoe diep moet jy jou grassnyer dan nou eintlik in die gras laat inbyt? Vir nuwe grasperke moet ’n mens wag totdat die gras sowat drie tot vier sentimeter hoog staan voor dat jy dit die eerste keer sny. Verminder dan die hoogte geleidelik tot so een, twee sentimeter. Fyn grassoorte kan korter gehou word as die growwer soorte.

Moenie meer as ’n derde van ’n grasspriet afsny nie. Sodoende handhaaf jy ’n balans met die wortelstelsel wat die plant voed. Sou die plant te kort afgesny word, kan dit brandskade aan die plantkroon en ’n vlak wortelstelsel tot gevolg hê.

Dis ook belangrik om te onthou dat gras wat in die warm seisoene floreer, soos kikoejoe, die sterkste groeipatroon in die middel van die somer toon. Grassoorte van die koeler seisoene, soos dié in ons winterreënstreke, groei weer die vinnigste in die lente. Hoe gereeld jou gras moet sny, hang dus ook in ’n groot mate van die bepaalde soort gras af.

’n Goeie riglyn is weliswaar om jou gras een maal per week te sny—maar dit kan wissel. Sny grassoorte van die warm seisoene meer gereeld in die somer. Koelseisoen-grasperke beleef beslis ’n groei-hoogtepunt in die lente en hoef nie soveel in die middel van die somer gesny te word nie.

Hou ook jou gras langer tydens hittegolwe, maar sny dit nadat jy kunsmis toegedien het.

En verander ná ’n tyd die rigting waarin die gras gesny word. Só ’n verandering verseker ’n gladde oppervlak.

Gee die wortels lug

NIE ALLE grasperkversorgers besef dalk die erns daarvan nie: graswortels het lug nodig. Van tyd tot tyd moet ’n mens dus eenvoudig ontslae raak van die versmorende bedekkings dooie blare en stingels wat onder die groen gras versamel het.

Hierdie dekgras of “matte”         keer nie net dat water by die wortels uitkom nie; dis boonop een van die hoofoorsake van grasperk-siektes.

Die beste tyd om jou grasperk te “ontmat”,         is kort voor die begin van die reënseisoen. Sny dan die gras dieper en gebruik ’n hark om die dooie blare en lopers van die wortels af weg te krap. Dis harde werk, maar daar is natuurlik baie vryskut-tuinhulpe wat maar te gretig sal wees om jou hiermee by te staan vir die ekstra geldjies.

Hierna kan jy die grond belug. Dit word gedoen deur oor die hele grasperk gaatjies van sowat tien sentimeter diep te maak. As jy so superfiks is dat jy kans sien om die takie met ’n tuinvurk te verrig, laat waai! Maar die meeste mense sal dit seker maar verkies om ’n spyker-roller iewers te huur of die plaaslike tuindienste te vra om dit vir hulle te doen.

Dis seker nie eens nodig om by te voeg dat dit makliker sal gaan nadat die gras goed natgemaak is nie—veral as jy kleigrond het wat maar lekker hard kan wees wanneer dit droog is.

Gee die regte kunsmis

DIE meeste grasperkversorgers is geen wetenskaplikes nie. Baie van ons strooi dus maar so dan en dan ’n kunsmissie van onsekere oorsprong oor die vaal kolle met die heimlike gedagte van “mog het troffe”.

Talle kan daarom baat vind by hierdie eenvoudige lessie uit die biologie en skeikunde. Plante het veral drie chemiese elemente nodig om te groei: stikstof (N) vir hul blare, fosfor (P) vir hul wortelstelsels en kalium (K) vir hul takke. Hierdie stowwe word in baie kunsmisprodukte aangetref in die verhouding N:P:K. ’n Kunsmis soos 2:3:2 het dus twee dele stikstof, drie dele fosfor en twee dele kalium in sy samestelling.

Dit spreek nou vanself dat gras (waarvan die blaarkomponent so belangrik is) sommer vet porsies stikstof nodig het om goed te vertoon. Daarteenoor is dit kortsigtig om slegs stikstofryke bemesting (soos ureum of KAN) op gras toe te dien en niks anders nie.

Die wortelstelsel het immers net soveel stimulering (fosfor) nodig om die gras bogronds te laat gedy. Tog is kalium (vir houtgroei) vir gras nie naastenby so belangrik nie soos byvoorbeeld vir bome nie.

Begin dus met ’n gebalanseerde bemestingstof soos 3:2:1 vir nuwe grasperke en vir die eerste lentevoeding. Gebruik sestig gram per vierkante meter.

Volg dit met tussenpose van vier tot ses weke op met gereelde voedings van stikstofryke bemestings.

As jou grond nie suur is nie, kan dié stikstofryke bemesting ammoniumsulfaat wees. Hou deur die somer vol met twintig gram ammoniumsulfaat per vierkante meter.

So nie kan jy ureum (sewe tot tien gram per vierkante meter) gebruik, maar wees versigtig, want dit brand maklik. Om te keer dat die grond suur word, wissel dit om die beurt af met dieselfde hoeveelheid KAN (kalksteen-ammoniumnitraat).

Gras wat onder bome groei, moet dubbel soveel van die regte kos kry as die res, want die groot kokkedore van die plantewêreld behandel die nederiges op voetsoolvlak nogal stief. Om dit so te stel: boomwortels vat maklik die kos en water uit die arme graswortels se “monde”!

Gebruik altyd ’n sprinkelaar nadat jy die kunsmis toegedien het sodat dit gou in die water kan oplos, of in suspensie kan oorgaan, en in die grond kan inspoel. Moet nooit kunsmis op nat gras gooi nie. ’n Stywe besem deug nogal goed om die kunsmis in te werk.

Met kunsmis waarvan die bestanddele stadig vrygestel word, word die probleme met verbranding bekamp. Swaar reën laat dit ook nie wegspoel nie en dit hou tot vyf keer langer. In die hele groeiseisoen hoef jy dit dus net so drie keer aan te wend.

Les bes verminder gereelde voeding die waarskynlikheid van onkruidbesmetting. Meer bemestingstof kan selfs gebruik word as jy dit nodig vind om onkruid behoorlik uit jou grasperk te ban. Jy hoef dus nie altyd voorgestelde voedingsprogramme tot op die letter na te volg nie. Pas dit by jou behoeftes aan.

Ook ’n goeie dosis kraal- of hoendermis,         goed benat, sal wondere vir jou grasperk verrig, mits jy—of jou bure—natuurlik die reuk kan verduur. Dié soort natuurlike bemesting verhoog boonop die gehalte van die grond, iets wat kunsmis nie doen nie.

Maar—en dit moet ’n mens wel sê—onthou dat onnodige voeding kan veroorsaak dat jou gras onnodig baie gesny moet word. Jy skep bloot werk vir jouself. Solank die gras ’n opvallende mooi groen kleur het, is dit mos in ’n gesonde toestand.

En die resultate van jou bemesting sal reeds binne ’n week sigbaar wees, wat jou genoeg tyd gee om die grasperk vir ’n bepaalde skoudatum op te kikker. Daarteenoor moet jy nooit jou grasperk voed net voordat jy met vakansie vertrek nie.

Gee jou gras reg water

HOE kan jy nóg jou grasperk se groei beheer? Natuurlik deur die natmaak van die gras te kontroleer. En dit sal op sy beurt bepaal hoe dikwels jy die grassnyer uit sy bêreplek sal moet sleep.

Gras se wortels lê net tussen vyftien en twintig sentimeter diep. In hierdie beperkte laag bogrond moet aan die gras se behoeftes voldoen word, so nie gaan dit elders daarna soek en byvoorbeeld onwelkome uitlope in jou blombeddings instuur.

Gras moet dus lank genoeg natgespuit word om te verseker dat daar genoeg water in die bogrondse groeilaag is. Die beste manier om ’n deurdringende neerslag tot op die gewenste diepte te verseker, is met ’n roterende sprinkelaar.

Hoe dikwels jy dit moet doen, hang van die plaaslike toestande af. In die somerreënvalstreke is dit dalk slegs nodig as dit sewe dae lank nie gereën het nie. In gebiede met droë somers moet ’n mens hierdie reënsiklus kunsmatig namaak.

Die gemiddelde behoefte van grasperke is 25 millimeter water elke sewe dae. Dit kom neer op een uur se besprinkeling per week.

By aanrol-grasperke is die gras van baie van sy wortels losgesny en oorgeplant. Voordat die gras gelê word, moet die grond daaronder deurweek wees. In die eerste paar weke daarna moet ’n mens die gras elke paar dae genoeg water gee om dit tot op ’n diepte van minstens twintig sentimeter nat te hou.